Metair en UWK se projek hou SA aan voorpunt

Die nywerheidsgroep Metair vat hande met universiteite in Suid-Afrika, Roemenië en Turkye om plaaslike intellektuele eiendom te benut.

Die groep wat onder meer motorbatterye vervaardig, sê in ’n verklaring hy stel ’n program bekend om litium-ioon (LiIon)-batterye in die drie lande te produseer wat plaaslike grondstowwe en intellektuele eiendom sal benut.

Vennootskappe word met plaaslike universiteite en bedryfsagentskappe gesluit om produksie en sertifisering te doen.

“Dit is ’n belangrike skuif vir Metair wat altyd beskikbare LiIon-oplossings van verskaffers verder aan in die vervaardigingsketting verkry het,” sê die groep in ’n verklaring. In Suid-Afrika sal Metair saam met die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) werk waar die South African Institute for Advanced Materials Chemistry (SAIAMC), die enigste gidsprojek vir die vervaardiging van LiIon-batteryselle in Afrika het.

Ingevolge die vennootskap met Metair sal die maatskappy R3 miljoen oor die volgende drie jaar investeer om die prototipe litiumproduksie van Januarie volgende jaar te begin.

Produksie sal op produkte soos selle vir mynkoplampe, LiIon-motorbatterye en batterye vir die herlaai van sonkragpanele fokus. Die opberging van energie is ’n belangrike fokusgebied vir baie internasionale bedrywe, sê Theo Loock, uitvoerende hoof van Metair. “Suid-Afrika is aan die voorpunt van die LiIon-tegnologie vir batterye.

Ons glo dit moet gehandhaaf word gegewe die internasionale verskuiwing na elektriese voertuie en hernubare energiebronne wat op plaaslike grondstowwe en produksiegeriewe staatmaak om koste te verminder.”

Netwerk24 – deur Vida Booysen

https://www.netwerk24.com/Sake/Maatskappye/metair-en-uwk-se-projek-hou-sa-aan-voorpunt-20171127#