Netwerk24 – Metair belê in Duitse batterye

Die nywerheidsgroep Metair het sy internasionale voetspoor vergroot deur ’n belang van 25,1% in ’n Duitse batteryvervaardiger te bekom.

In ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, sê dié vervaardiger van motoronderdele en batterye hy het die belang in die Duitse firma Moll vir €7,425 miljoen verkry. Metair, wat reeds fabrieke in Suid-Afrika, Roemenië en Turkye het, het verlede jaar ook ’n meerjarige kontrak van Daimler in Duitsland losgeslaan.

Theo Loock, besturende direkteur van Metair, sê dié nuutste verkryging is deel van ’n strategie om die maatskappy internasionaal te laat uitbrei. “Dit stel ons in staat om ’n teenwoordigheid naby ons Europese klante te hê en brei ons reikwydte uit deur groter toegang tot Europa en Asië te bewerkstellig.”

Hy voeg by dat die maatskappy sy produkreeks ook nou kan uitbrei. Die verkryging stel Metair in staat om batterye vir onder meer elektriese fietse, twee- en driewielvoertuie asook elektriese voertuie te verskaf. “Dit gee aan Metair ook ’n klein maar deurslaggewende voet in die deur na die Chinese mark waar ons hoop om in die toekoms tegnologiese samewerking te bewerkstellig.”

Moll, wat in 1945 gestig is, is ’n bekende batteryverskaffer vir die motorbedryf en vir handelsvoertuie. Die maatskappy vervaardig ’n reeks batterye by sy aanleg in Bad Staffelstein in Duitsland en verskaf batterye aan Europese motorreuse soos Audi, Daimler, Porsche, Skoda, SEAT, Lamborghini, Leibner en Volkswagen. Moll het ’n verspreidingsnetwerk oor Europa en Asië heen deur drie groothandelaars en sowat 280 werknemers. ’n Chinese maatskappy, Chaowei het in 2013 ’n belang in Moll verkry en sedertdien het die twee maatskappye saam batterye vir die Chinese mark ontwikkel. Albei is betrokke by die ontwikkeling van die mark vir nuwe motorbatterytegnologie (stop-ry-tegnologie) – soos ook Metair.

Dié tegnologie skakel die onnodige luier van motorenjins uit en Loock voorspel dat dié tegnologie teen 2020 meer as 50% van die mark sal behels. ’n Tegniese samewerkingsooreenkoms vorm deel van die Moll-transaksie en dit sal die oordrag van tegnologiese ontwikkeling tussen Moll en Metair vergemaklik.

 http://www.netwerk24.com/Sake/Maatskappye/metair-bele-in-duitse-batterye-20170704

 

Covid-19 Notice!

Support combating the spread of Covid-19.
National Lockdown from March 26 until April 16.

Emergency Hotline: 0800 029 999
WhatsApp Support Line: 0600-123456